OUDTSHOORN NUUS – Niel Els, visepresident van Skål Internasionaal se raad en mede-eienaar van die Turnberry-boetiekhotel, het verlede week teruggekeer na sy besoek aan die IBTM-toerismeskou in Barcelona, Spanje. Hy en Alewijn Dippenaar, van Adventures Garden Route, het verskeie toerisme-instansies in die Suid-Kaap by dié internasionale skou verteenwoordig.

“Die IBTM is nie ‘n gewone toerismeskou nie, maar fokus op plekke waar maatskappye hul vergaderings, konferensies of geleenthede kan hou en waarheen hulle hul werknemers kan stuur as aansporing of om dankie te sê vir hul harde werk,” verduidelik Els.

“Die doel van die IBTM is dus om verskaffers van wêreldgehalte fasiliteite en buitengewone aktiwiteite aan mekaar bekend te stel.”

Hy meen die Tuinroete se asemrowende natuur en interessante dorpe bied uitstekende verblyf en geleenthede vir avontuurtoerisme en behoort bemark te word om aan te pas by internasionale reistendense.

Verskillende reistendense
“Een so ‘n tendens is groot maatskappye wat hul werkers as aansporing om harder te werk, met vakansie stuur. Omdat hierdie groepe tussen 25 tot 150 mense kan insluit, bied dit besondere uitdagings, want waar kry ‘n mens een plek wat almal gelyk kan huisves? “Die besoekers is ook gesteld op geriewe wat aan internasionale standaarde voldoen. Gelukkig is daar goeie samewerkingsooreenkoms tussen die vierster hotelle en gastehuise in Oudtshoorn, want tussen ons kan ons ook groter groepe hanteer.”

Nog ‘n tendens wat sterk groei, is rugsakstappers (backpackers) wat nie in hotelle of gastehuise bly nie, maar in goedkoper verblyf – waarvan daar verskeie in Oudtshoorn is.

“Die rugsakstappers reis en bly so goedkoop moontlik, maar dit is ‘n winsgewende mark omdat daar so baie van hulle is,” sê Els.

En dan is daar die sogenaamde glampackers. “Sommige rugsakstappers met ‘n dikker beursie verkies om so luuks as moontlik te reis en om in deftiger verblyf, soos boetiekhotelle, tuis te gaan, vandaar die naam glampackers.”

Ander tendense wat ook reeds goed in die Klein-Karoo posgevat het, staan bekend as volunteerism (vrywilligerdiens), wat daarop neerkom dat jongmense uit Europa en die VSA betaal om hier te kom gemeenskapsdiens doen of met diere te werk.

“Voorbeelde hiervan in Oudtshoorn is Cango Wildlife Ranch en Buffelsdrift Game Lodge, waar die jeugdiges die ponde uitpak solank hulle met wilde diere kan werk, en die St Luigi Scrossopi-sentrum waar jongmense uit ander lande geleentheid kry om ‘n liefdesdiens aan minderbevoorregte kinders te lewer.”

Dan is daar ook nog opvoedkundige-, mediese- en sporttoerisme, wat miljoene dollar en euros na Suid-Afrika bring. “Toerisme-entrepreneurs wat vars en nuut dink, kan muntslaan uit die magdom geleenthede in die toerisme-bedryf in die Suid-Kaap.”

Els was voorheen president van Skål Tuinroete, maar hy is in Oktober vanjaar verkies tot vise-president van Skål Internasionaal. Andrew Rogers van Calitzdorp Country House is verkies as president van Skål Tuinroete, met Fiona Angelica van Skål Cape Winelands as Skål SA se president. Lavonne Whittmann, voorheen van Skål Cape Town, is nou wêreldpresident van Skal Internasionaal.

Share Button