Groot Sleutelfontein is ‘n privaat wildreservaat in die Sentraal-Karoo waar ‘n mens wild- en jagervarings vol helder Karoolig, uitgestrekte ooptes, en verrassings kan ervaar. 


Die plaas van 10 500 ha strek vanaf die noordelike hang van die Swartberge tot by Tierberg.

Berné Botha is die bekwame bestuurder wat ‘n oog hou terwyl eienaars Johan en Laetitia Meyer op Stellenbosch woon en werk.

Die vlaktelandskap word oorheers deur Karoobossies, wat kenmerkend van die gebied is. Plek-plek is ook Sukkulente Karoo, en as dit die slag reën, ook soet- en suurveld.  Verrassend in die dorre landskap is rivierlope van altesaam sowat 200 km wat deur die plaas kronkel en wat, ten spyte van die droogte,  omsoom is met die malse groen van soetdorings en rivierwilg.

Al is daar weinig oppervlakwater te sien, is daar oorvloedige, redelike vlak ondergrondse water. Veertien windpompe verskaf water vir suipings, en daar is altesaam vyf natuurlike fonteine waarvan twee steeds standhoudend is ten spyte daarvan dat dit twee jaar laas behoorlik gereen het. Reënwater opgevang in gronddamme, waarvan Oupa se Dam sowaar nog water in het.

Ekotoerisme, jag en teel

Groot Sleutelfontein is afhanklik van drie inkomstestrome, naamlik ekotoerisme, jag en die teel van skaars wild.

Aanvanklik is die plaas gekoop met die doel om vlaktewild vir jagdoeleindes aan te hou, en daarvoor is infrastruktuur soos ‘n luukse lodge, kompleet met kombuis en oopplan kuierplek met ‘n binnebraai, eetkamer, biblioteek, kroeg en knus sitkamer gebou.

Daar is vier luukse en suite chalets, wat elk vier mense kan huisves, en drie oorspronklike arbeidershuise van klip wat opgeknap is om verblyf vir nog agt mense  te bied.

Groot Sleutelfontein se luukse lodge en chalets kan tot 24 gaste huisves.

Wanneer daar ‘n groot groep van tot 24 is, word verblyf ook in die plaasopstal, waar Johan en sy gesin naweke bly, ingerig.  Terwyl die bestuurdershuis gebou word, bly Berné en sy vrou Elmie in een van die groter kliphuise.

Volhoubare jag

Toe Johan die plaas in 2006  gekoop het, het hier duikers, steenbokke, klipspringers, vaalribbokke en ‘n hele klomp koedoes natuurlik voorgekom. Mettertyd is  springbokke, elande, rooihartbeeste, sebras, gemsbokke, volstruise, kameelperde, blesbokke en blouwildebeeste gevestig. Die diere word in ‘n gebied van 8 500 ha toegelaat om  vrylik rond te beweeg en aan te teel.

Maar wild kan, net soos vee, nie toegelaat word om onbeperk aan te teel nie. Ten einde die getalle en kwaliteit van die diere te beheer, moet hulle volhoubaar gejag word. Plaaslike en oorsese jagters word toegelaat. Oorsese jagters stel belang om trofeewild te skiet, en elande, gemsbokke, koedoes, blouwildebeeste en springbokke met goeie horings is beskikbaar. 

Die meeste Suid-Afrikaanse jagters kom hierheen as korporatiewe groepe en hulle stel belang daarin om te jag vir die lekker wildsvleis, wat volgens hul behoefte verwerk en verpak word. Daar is immers niks lekkerder as ‘n stukkie wildsbiltong of boerewors nie, behalwe miskien die jagstories wat  om die vuur vertel word wanneer ‘n lekker wildsvleisie gebraai word.

Hier word hoofsaaklik met gewere gejag.

Hier word hoofsaaklik met gewere gejag. “Die Karooveld is te plat vir boogjag, want die wild sien jou van ver af aankom,” verduidelik Berné. Van die boogjagters jag in die rivierlope, maar daar word nie beplan om binnekort skuilings te bou waarin ‘n boogjagter vir sy prooi kan sit en wag nie.

Die jagters word met ‘n bakkie met ‘n bestuurder en beroepsjagter, wat albei gidse en spoorsnyers is, die veld in geneem en op ‘n plek afgelaai vanwaar hulle agter die wild aanloop. Stephanus Lategan, die hoof beroepsjagter op Groot Sleutelfontein, en sy span is hier in beheer.

Daar word glad nie voertuie in die veld toegelaat nie. Die karkasse word uit die veld na die naaste pad gedra; veral in die bergagtige dele aan die suide van die plaas kan dit nogal taai wees om ‘n volgroeide koedoe of eland uit te dra!

Almal is welkom

Jagters wat een keer die gulle gasvryheid van Groot Sleutelfontein beleef het, kom dikwels terug vir korporatiewe spanbou- en strategiese beplanningsessies. Waar kan ‘n mens jou kop beter skoon kry as hier in die vars Karoolug sonder die stoornis van stadsrumoer?

Jagters bring egter nie net kollegas saam nie,  maar kom dikwels terug met hul gesinne om die afsondering, stilte en natuurskoon met geliefdes te deel.

Gaste kan op versoek  in ‘n wildkyk-voertuig met ‘n kundige soos Berné aan die stuur die veld verken: van die vlaktes met wild wat tipies in so ‘n habitat voorkom, die rivierlope waar blaarvretende bokke te sien is, tot die teelafdeling waar ‘n mens skaars spesies wat jy nie aldag te sien kry nie, van naderby kan bekyk.

Hier word naas swartwitpense ook bergsebras, goue gemsbokke en bastergemsbokke geteel.

Skaars spesies wat hier in omheinde kampe in die noordelike deel van die plaas geteel word, sluit Matetsi en Zambiese swartwitpense, kruis-swartwitpense, bastergemsbokke, Kaapse bergsebras, goue gemsbokke, goue wildebeeste en koper-, wit-, swart- en langhoring (Kalahari) springbokke in.  Die diere word geteel met die doel om aan ander wildboere in die omgewing te verkoop, of die wild op die vlakte aan te vul. DJ Strauss en sy span bestuur die kuddes en vertel graag van hul ervarings en deel hul wye kennis met gaste.

Vir die jagters is daar ‘n skietbaan waar hulle met die lodge se verskillende kalibers gewere kan oefen. Die jagters kan ook hul vernuf met kleiduif- en teikenskiet oefen, visvang in die dam by die lodge, of stap en fietsry in die uitgestrekte reservaat. Omdat hier nie gevaarlike wild op die vlakte is nie, is dit heeltemal veilig om die veld so te verken.

Die lekkerste van so ‘n uitstappie is beslis die tuiskoms by die lodge as ‘n mens warm en moeg is van al die adrenalien wat die jag of uitstappies opgewek het. Dan is die swembad op die dek ‘n lekker afkoelplek. Of ‘n mens kan op die stoep sit en oor die vlakte tuur, of laatmiddag kyk hoe die wild sommer hier by jou in die dam kom water drink.

Van die stoep af kan jy die son oor die Karoo sien sak, en as die sterre aan die oop hemel skitter, kom die bokke skugter nader om op die grasperke rondom die blyplekke te wei.

Karookos met ‘n kinkel

Saans is dit tyd vir die Groot Kosbederf, want  Berné is ‘n kranige kok wat spesialiseer in wildsdisse. Sommer met die intrapslag kry jy ‘n voorsmakie van wat hy kan optower, want jy word verwelkom met ‘n hemelse drankie wat bestaan uit warm sjokolade, karamelvodka en room.

Die vleis van die wild wat op Groot Sleutelfontein gejag word, word by ‘n bekende slaghuis op Oudtshoorn volgens die jagter se keuse verwerk en by die jagter afgelewer.  Berné het egter soms sy eie versoeke vir die voorbereiding van vleis vir sy eie disse.


Koedoe-carpacio

Hy maak graag ‘n buitengewone voorgereg van wildshart waarvan die weefsel verwyder en die handjievol vleis wat oorbly in klein blokkies gesny word. Die blokkies word in hoendervel toegedraai en saam met pynappelstukkies op ‘n sosatiestokkie geryg en oor die kole gebraai terwyl dit bestryk word met ‘n heuning- en sojasousie.

Nog een van die geregte wat hy graag voorberei is murgbene wat in 5 cm lengtes gesaag is en waarvan al die vleis aan die buitekant verwyder is. Die murgbene word regop op ‘n bakplaat vir ‘n halfuur in ‘n oond van 200 °C gebak. Die murgbene word voorgesit met ‘n bros witbrood, en elke gas kan die murg self met sout en suurlemoensap geur voordat dit met ‘n langsteel-teelepel geëet word.

Hoe kom ‘n mens daar?

Ry soontoe: Groot Sleutelfontein is 440 km vanaf Kaapstad, en 160 km vanaf George. Die grondpad Sleutelfontein toe draai sowat 25 km vanaf Klaarstroom op die Beaufort-Wespad af.

Vlieg soontoe: ‘n Aanloopbaan by die lodge gee maklike toegang tot die plaas. Die ruitverwysing is S 33° 11,890 E 022° 24, 913

Bespreek by admin@grootsleutelfontein.co.za of 079 511 5228. Besoek die webblad www.grootsleutelfontein.co.za vir meer inligting.

Share Button