Wat maak Toorwater so betowerend?  Is dit Toorwater se vervalle ou spoorweghalte waar Katinka Heyns se film Paljas afspeel? Of is dit Toorwaterpoort wat die Swartberge hier middeldeur sny sodat die loodregte kranse hoog bo die Trakarivier uittroon?

Die spoorlyn deel die nou Toorwaterpoort met die Trakarivier.

Is dit die ryke geskiedenis van die treinspoor wat so nou verweef is met dié van die Anglo Boere-oorlog van die laat 1800’s-vroeë 1900’s? Of is dit die verhaal van die Barnardts wat al ses geslagte lank hier boer?

 Is dit die watermeid  wat in die poort boer? Of is dit die warm toorwater wat diep uit die aarde onder die Swartberge borrel en wat glo magiese genesingskrag het?

Paljas is toorgoed wat regmaak wat verkeerd is.

Hendrik McDonald, Paljas

Waar die kranse antwoord gee

Miskien is dit alles saamgegooi wat die toorgoed – die paljas – is wat als wat verkeerd is weer reg toor…

Al manier wat ’n mens van Toorwater af deur die poort tot by Vondeling aan die ander kant van die Swartberge kan kom is te voet met die spoorlyn langs.

Die spoorlyn, wat die Klein-Karoo met die Groot-Karoo verbind, klou styf teen die kranse ’n paar meter bokant die kronkels van die Trakarivier.

Die Traka – wat in die Khoi-taal verwys na “water” en “vrou” – is hierdie tyd van die jaar ’n wye sandbedding onderbreek met oopgespoelde rotsbanke, en bruin poele water waar die rivier teen die kranse en die spoorwal die diepste uitgekalwe is. Twee swarteende – of dalk  geelbekeende?  – vlieg skielik op uit ’n poel, stryk verder stroomaf neer.

Op die sandbanke is poele helder syferwater waar vissies swenk, ’n krap grootoog retireer, ’n deurskynende naaldekoker ’n oomblik lank ademloos hang.

Danie Bester, wat Toorwaterpoort vir my gaan wys het, drink water uit ‘n helder poel in die bedding van die Trakarivier.


Teen die sandsteenkranse klou inheemse bome: kiepersol, gwarrie, selfs wildeperske waarin sku voëls skuil; ’n struik met trosse wit blomme waaraan ’n oranje skoenlapper diep teug.

Vet dasse glip oor die blink spore en verdwyn in ’n rotsstapel, klipspringers staar stip uit die hoogte en verdwyn geruisloos tussen struike teen die hang. Anderkant  die Rooibrug raas bobbejane.

En in die blou-blou lug hoog bokant die kranse draai witkruisarende geruisloos…

Boer en Brit

 Allan Duff van George, historikus met ’n passie vir die Anglo-Boereoorlog (Oktober 1899 tot Mei 1902 ) en stoomtreine, se navorsing toon dat boumateriaal op ’n tydelike spoorlyn in die rivierbedding vervoer is. Boerekommando’s wat van die Transvaalse en Vrystaatse Republieke deur die poort die Kaapkolonie wou bereik, het die bouery ontwrig.

Die teenwoordigheid van die kommando’s het die Britse magte genoop om ’n blokhuis in die poort te bou – enersyds om die Cape Government Railway (CGR) se werkers te beskerm, maar ook om die kommando’s uit die Kolonie te hou. 

Die Rooibrug is anderkant Toorwaterpoort. Bouwerk aan die spoorlyn is in 1896 begin, maar eers in 1904 tot op Oudtshoorn voltooi.

Uiteindelik is die spoorlyn, waaraan bouwerk in 1896 begin het, eers in 1904 tot op Oudtshoorn voltooi. Vandag nog loop daar op ’n Dinsdag en Donderdag ’n goederetrein deur die poort. 

Ongelukkig is al wat oor is van die blokhuis ’n foto in José Burman se boek Early Railways at the Cape (1984), want die klip waarmee die blokhuis gebou was, is gebruik om die spoorlyn te herstel na die groot oorstromings van 1981.

Kommandant Piet Kritzinger en sy manne het in 1901 deur Toorwaterpoort gekom en by die Barnardts voer en perde opgekommandeer. Gelukkig het hierdie skuldbrief – ’n vergeelde nota in ’n raam in die Barnardts se besit – behoue gebly:

“Genomen van den Heer Gert Barnardt, Muragie Distrikt, Uniondale Kaapkolonie

1 Ry Paard

400 Bundels Haver

9 Bokke

Geteken namens Kommandant P Kritzinger, Rouxville Kommando, 20 Januarie 1901.”

Toverwater

Toorwaterpoort het sy naam gekry by die eerste eienaar Johannes Barnardt.

Was dit die natuurskoon in die smal poort wat Johannes Barnardt betower het? Of het hy maar net, soos die karakters in Paljas, hier op die verafgeleë plek kom vrede soek?

Toverwater is die naam wat hierdie eerste eienaar gegee het aan die plaas Muragie wat hy in 1848 vir £300 van die koloniale regering gekoop het. Later het die naam in die volksmond Towerwater geword totdat dit vandag Toorwater is.

Hoekom Toverwater? “Die oumense vertel as jy in die somer in die môre opstaan en die mis kom wit uit die poort aangerol, dan het iemand die watermeid kwaad gemaak,” vertel André Barnardt,  sesde geslag wat hier boer sedert hy die boerdery by sy pa Naas oorgeneem het. Die mis was glo die rook uit die watermeid se pyp. En klokslag drie dae later het die Traka bulderend afgekom, sonder dat ’n druppel reën diékant van die berg geval het, en dan het die woedende rivier alles uit sy pad gevee.

“Die  oumense het geglo jy stap nie deur die poort voor jy nie ’n stukkie vleis by die bek van die poort neergesit het nie…”

Ons wat onder ’n blou-blou hemel boer

Miskien het iemand die watermeid in 1981 kwaad gemaak?

“Daardie jaar het die karavaan al die aand gehaak gestaan want ons sou die volgende môre Mosselbaai toe vertrek vir die vakansie,” onthou André. “Maar die volgende môre het Pa kom sê ons gaan nie meer met vakansie nie: ‘Die see het sommer na ons toe gekom.’ Twee maande lank was ons afgesny van die buitewêreld en kon net ’n  trekker deur die vol rivier kom.”

Maar die watermeid was tóé nie so kwaad soos in 1996 nie: “Daardie jaar het pa genoeg geld in die bank gehad om ’n plaas onderkant die Floriskraaldam te koop. Hy het klaar gaan kyk, maar gelukkig het hy niks geteken nie.

“Op 21 November 1996 het die rivier weer afgekom en binne 24 uur het Pa niks op sy naam gehad nie: hier waar die rivier nou loop was landerye; 200 slagvolstruise het weggedryf op die water; die pomp in die rivierbedding is stroomaf onder die sand begrawe.

“Pa was ’n sterk man – ek het gesien hoe hy sy ma begrawe. Maar dáárdie dag toe die rivier veertig jaar se werk wegvat, het ek hom sien huil.

“Ons  wat onder die blou-blou hemel boer is blootgestel aan die elemente…”

Uit die warm hart van die aarde


Chantal en André Barnardt en hul kinders Naas en Anelle op die stoep van die opstal waar ses generasies Barnardts gewoon het.


Vandag boer André hier met sy Toorwater Boerbokstoet en Merino’s. “My pa was lief vir sybokke, maar vir my is boerbokke die beste aangepas by die klimaat – karoobossies, temperature wat in die somer tot bo 40° Celsius klim en in die winter benede vriespunt daal, ’n gemiddelde reënval van sowat 240 mm.”

Toorwater verwys ook na die warmwaterbron sowat drie kilometer van die plaas af. Die Toorwater-bron is jarelank bedryf deur die Rooms-Katolieke Kerk Onbevlekte Hart van Maria, Marienhof, wat naby die bron ’n kerk en klooster laat bou het. Die klooster het in onbruik verval, maar daar word nog twee maal per maand mis in die kerk gehou. Die “Roomse” het lank die Warmbad bedryf en dit was ’n gewilde ontspanningsoord.

Vandag is die eens gewilde warmwaterbron verwaarloos en verlate en die warm water wat met ‘n pyp diep uit die hart van die Swartberge gebring word, sypel weg in die dor aarde.

Die bron is later jare deur die Uniondale distriksraad bestuur, wat dit in die 1990’s aan ’n Engelsman verkoop het, wat, voordat hy vort is Engeland toe, die klipstrukture laat afbreek het. Die fondasies lê nog net so, die eens netjiese ry kamers en aangrensende badkamers is vervalle, boerbokke wei op die kaalgevrete grassies om die strukture, lê op die stoep en gee blêrend pad as ons nader kom. ’n Enkele pekanneutboom staan donkergroengeil teen die troostelose verwaarlosing.

Die dik stroom water met ’n temperatuur van sowat 42° Celsius vloei steeds onverpoosd  teen sowat 15 liter/sek uit die artesiese bron. “Water wat só warm is kom twee tot drie kilometer onder uit die grond,” sê dr Chris Hartnady, hidrogeoloog van Kaapstad. Die warmbron is ongeveer in die middel van die Kango-breuk wat 10 miljoen jaar gelede deur ’n aardbewing veroorsaak is,” sê Chris. 

Mens kan darem nog vir jou ’n skotteltjie warm water tap en met jou voete daarin sit. Maar dis dit.  

Gelukkig bly Toorwaterpoort altyd staan en vir uitverkorenes bly dit ’n betowering.

Hoe kom ’n mens daar?

Van De Rust af ry mens met die R341 tot net ná die aansluiting met die R339 vanaf Uniondale. Toorwater se afdraai word duidelik aangedui en ’n goeie grondpad neem jou sowat 6 km tot by die Barnardt-opstal waar jy moet aanmeld. ‘n Kilometer verder lê die vervalle Toorwater-stasie en van daar volg jy ’n dienspad langs die spoor tot by die bek van die poort.

’n Gewone voertuig kan jou tot op Toorwater bring, mits die laagwaterbrûe oor die Trakarivier – wat net suid van Toorwater in die Olifantsrivier vloei – nie oorstroom is nie.

Toegang tot Toorwaterpoort is gratis, maar jy moet vooraf toestemming bekom by Chantal Barnardt by 044 734 1001 of 082 304 0869 (selfoonontvangs is beperk) of toorwater@igen.co.za  Reël ook met haar vir verblyf, wat tans beperk is.

Bronne:

*Stagnering en transformering: die rol van die nar in Paljas Adéle Nel Skool vir Tale Vaaldriehoekkampus Potchefstroomse Universiteit vir CHO VANDERBIJLPARK E-pos: afnan@puknet.puk.ac.za

Toorwaterpoort: Allan Duff

Share Button