Henkie Altena het van kleins af graag saam met sy pa, Henk in die see gaan visvang.  “Ek het visgevang vandat ek kon loop…” vertel hy.

Hy het op Beaufort-Wes grootgeword, en die naaste see was in die Tuinroete. “Ons het gewone rots- en strandhengel gedoen en dit was lekker.”

Maar vyf en twintig jaar gelede het ‘n t-hemp met die woorde Fishing is Life sy hengelbelangstelling in ‘n ander rigting gestuur. “Ek het in ‘n winkel op Beaufort-Wes gestaan toe ‘n man my uit die bloute nader en vra of ek in vlieghengel belangstel. Ek was totaal uit die veld geslaan toe hy al sy vlieghengeltoerusting vir my aanbied.”

Henkie Altena met ‘n knewel van ‘n knorhaan wat hy met ‘n vileg gevang het.

Bennett Murray het al sy vlieghengeltoerusting – ‘n stok, katrol, lyn en ‘n boks vol soutwatervlieë – vir Henkie gegee.

‘n Kosbare present

“En so het my vlieghengel met ‘n present begin,” vertel hy. “Dit was nog voor YouTube, en ek het boeke oor die onderwerp gekoop en op die laerskool se rugbyveld begin leer lyngooi.”

Dis nogal ‘n moeilike tegniek om aan te leer: “Dit gaan oor balans tussen die stok, lyn en katrol.” Anders as by gewone hengel met ‘n hoek, sinker en aas, is die vlieg feitlik gewigloos.

Henkie moes leer hoe om die lyn behendig te gooi dat die kunsvlieg land
waar die ou grotes boer.

“Die tegniek om die lyn te gooi kom neer op ‘n verplasing van kinetiese energie wat van jou arm na die stok en die lyn oorgedra word,” verduidelik hy.

Flous die vis

Waar jy die vis gaan soek,  verskil van vis tot vis. “Die visse waarop ons fokus, jag op ‘n spesifieke plek en manier, en jy moet jou vis én jou gooi ken.” Die gespikkelde knorhaan, byvoorbeeld, wat in strandmere en riviermondings voorkom, maak jag op modderkrewels wat in modderbanke woon. Die vis staan op sy kop en blaas met sy bek water in die krewel se gat sodat die krewel uitpop, en dan vreet hy hom op.

“Om ‘n knorhaan te vang het jy ‘n nommer 7, 8 of 9 stok met bypassende katrol en dryflyn nodig. Die vlieg moet ‘n modderkrewel naboots. Jy gooi die dryflyn waar jy weet die knorhaan jag, en dan trek jy die lyn baie, baie stadig in om die tipiese beweging van die modderkrewel na te aap.”

Elke vis wat gevang word, word weer vrygelaat.

Dit kos vernuf en geduld om ‘n vlieg te bind, en Henkie gebruik sterk sintetiese gare, ‘n hoek van vlekvrye staal en sintetiese materiaal omdat dit meer duursaam is.  “Die doel van die vlieg is om te lyk soos ‘n seediertjie wat vir ‘n vis soos sy gunsteling Wimpy-brekfis lyk.”

Nog ‘n toevallige ontmoeting

In 2003 het Henkie flydotfish geskep wat hengeltoere in Suider-Afrika onderneem het. Drie jaar gelede het hy en Victor Ives, flydotfish se sjef, op Witsand vir ‘n groep kliente van die vlieghengelwebtuise Fly Talk kos gemaak.  Attie Gunter, eienaar van die plaas Rhenosterfontein langs die Breederivier, het die groep genooi om daar te kom braai.

“Ons het die braai op Karoolskraal gedoen, en toe ek die plek die eerste keer sien, het ek vir  Vic gesê ons moet hier ‘n vlieghengelkamp maak.”

‘n Jaar later het Henkie met Attie daaroor gepraat, wat ingestem het om in ‘n vennootskap met flydotfish te gaan. En so het die eksklusiewe Karoolskraal Vlieghengelkamp op die oewer van die Breederivier op privaatgrond sowat 7km vanaf Witsand tot stand gekom.

Die kampplek is ideaal vir soutwater vlieghengel, want soutwater stoot van die riviermonding by Witsand af op tot verby Karoolskraal. In die breë, stilvloeiende rivier kom naas knorhaan, ook kabeljou en leervis (Garrick) voor. En met ‘n gesoute vlieghengelaar aan jou sy wat jou help om jou tegniek te verfyn, kan jy al drie binne 24 uur vang en vrylaat. 

Henkie nooi ook altyd een of meer ware meesters, soos MC Coetzer, afrigter van die Protea Vlieghengelspan, Philip Meyer, voormalige lid van die span en Suid-Afrikaanse kampioen-vliegbinder, Conrad Botes, waarskynlik die beste kabeljou-vlieghengelaar, en Jannie Visser, wat op sy beurt ‘n spesialis knorhaan-vlieghengelaar is, om saam te kamp en hul kundigheid en ondervinding te deel.

Kampkuier

Karoolskraal Vlieghengelkamp is geleë in ‘n vallei tussen die heuwels en word met ‘n grondpad bereik. Om die laaste  200 m aan te durf het jy ‘n voertuig met ‘n redelike grondvryhoogte nodig, anders kom Henkie jou met die bakkie by ‘n veilige parkeerplek haal.

Die kamp, wat 100m vanaf die rivieroewer af is, bestaan uit ses boogtente wat elk met ‘n opslaanbed en matras toegerus is – jy moet net jou eie beddegoed (slaapsak sal werk), handdoeke, drinkgoed en vlieghengelgerei saambrin.

“As ‘n paartjie ‘n tent wil deel, gebruik ons die ander tent vir hul bagasie,” verduidelik Henkie.

“Drie maal per dag word propper kos in ‘n toegeruste kombuistent deur sjef Bjorn Losper voorberei en in die eettent by ‘n regte tafel in regte breekware voorgesit,” sê hy.  Besoekers het ook toegang tot ‘n afsonderlike kuier- en braaiarea. Daar is eko-toilette en warmwaterstorte. Daar is geen elektrisiteit nie en net beperkte selfoonontvangs.

Vlieghengelaars wat darem ‘n idee het waaroor dit gaan, sal baie baat vind by die ondervinding  wat Henkie en die ander meesters bied. “Ek help hulle om hul tegniek te verbeter, en indien hulle belangstel, hoe om vliee te bind.”

Volgens Henkie is daar groeiende belangstelling van mans en vroue van alle ouderdomme in die sport. Die meeste besoekers kom van Kaapstad, wat drie ure se reis vanaf Karoolskraal is, terwyl die res dikwels varswater-vlieghengelaars is wat uit die binneland na George vlieg, ‘n motor huur en binne drie uur by die kampplek is.

‘n Minimum van 3 persone en ‘n maksimum van 6 persone word toegelaat sodat elkeen persoonlike aandag kan geniet. Die kampe word twee maal per maand aangebied, en die datums is op die webblad beskikbaar.

Koste: Die koste beloop R1200 per persoon per nag, wat drie maaltye per dag en die kundigheid van die meester-vlieghengelaars insluit.

Hoe kom jy daar: Omdat Karoolskraal op privaatgrond geleë is, is dit nie toeganklik vir almal nie. “Wanneer jy plek bespreek, sal ons vir jou presies beduie hoe om hier te kom,” sê Henkie.

Kontakbesonderhede: Besoek die webtuiste by www.flydotfish.com, of kontak Henkie Altema by henkie@flydotfish.com, of 082 782 4452

Share Button