Numbi Valley permakultuur-plaas  in die voetheuwels van die Swartberge is ‘n groen oase in die dorre Klein Karoo. Hier het lewensmaats Kathryn Eybers en Ross Dwyer 13 jaar gelede begin om die vertrapte aarde nuwe lewe te gee sodat dit vandag ‘n lushof van groen vrugtebome en ‘n geil groentetuin is.

Ross Dwyer en Kathryn Eybers ontspan onder ‘n rietdak.

Die plaas beslaan 70 ha, waarvan net 1 ha bewerk word. Die res behoort aan die natuurlike plantegroei en wildlewe wat hier voorkom, soos koedoes, grysbokkies,drie soorte skilpaaie, koggelmanders, paddas  wat hulle in ‘n dammetjie met waterblommetjies tuisgemaak het, klein roofdiere soos muishonde wat kom kos soek.

‘n Vervalle arbeidershuis sonder ‘n dak was al infrastruktuur toe hulle 13 jaar gelede na baie jaar as onderskeidelik toergidse en bestuurders van toeristebestemmings in die Okavango Delta hier aangekom het.

“Ons het besluit ons wil in die natuurskoon woon waar ‘n mens nie ligte sien of die bure kan hoor nie. . . ”

Al infrastruktuur op die plaas was ‘n ou arbeidershuis wat omskep is in ‘n knus kothuis waar ‘n mens kan wegkom van die stadsrumoer.

Huisie van klei

Agt jaar gelede het hulle ‘n unieke en ekovriendelike huis en ‘n ateljee van klei en strooi met ‘n rietdak gebou. Die werkoppervlakke is met lynolie geseël. Hulle is nie afhanklik van Eskom-krag nie, maar maak gebruik van sonenergie vir warm water is en ‘n sonstoof, asook ‘n wonderbag. “Ons is feitlik selfonderhoudend en al ons maaltye kom uit ons eie tuin.”  

Kathryn Eybers gee ‘n skeppie chia-konfyt aan in die huisie van klei wat sy en Ross eiehandig gebou het.

“Toe ons die plaas gekoop het, was die grond kliphard met ‘n hoë soutinhoud, want hier het voorheen volstruise geloop,” vertel Kathryn. “Ons het groot hoeveelhede organiese material aangery om die organiese inhoud van die grond te verbeter.”

 ‘n Organiese olyfboord met Frantoio, Manzanilla-, Mission- olywe is deur hulle 12 jaar gelede geplant. Totdag die olywe in volle produksie gekom het, het hulle die grondkwaliteit verbeter met organiese materiaal en verskuifbare hoenderhok.

Water van lewe

Die swembad is ook reservoir wat gevul word uit ‘n artesiese bron en waaruit die groentetuin en olyfboord besproei word.

Digby die kothuis is ‘n reservoir, wat ook as varswater swembad dien. Die reservoir word gevoed deur ‘n artesiese boorgat wat deur middel van gravitasie teen die effense helling afvloei. ‘n Voortjie lei die water wat uit die “swembad” oorloop na kontoerwalle (swales) vanwaar die water herlei word vir besproeiing.

Kostuine

Hulle het 60 vrugtebome geplant wat nou in volle produksie is. Die bome is gekies om op verskillende tye te dra sodat daar nooit te veel op een slag is en vermors nie, maar eerder dat daar ‘n konstante voorraad vrugte deur die jaar is.

Vrugtebome, groente en kruie groei almal al te lekker saam.

“Die Klein Karoo se klimaat met warm somers en koue winters, wanneer die Swartberge wit van die sneeu lê, is geskik vir die verbouing van ‘n groot verskeidenheid vrugtebome, wat wissel van steenvrugte tot bessiebosse, druiwe, vye en granate, en talle sitrusbome, boomtamaties en hemelse vrugte,  sodat daar dwarsdeur die jaar vrugte is wat ryp word.” Daar is ook tropiese vrugte soos papajas, avokado en piesangs wat floreer, en neutbome soos amandels en okkerneute.

Kathryn kweek self boompies van steggies, en oes haar eie erfenissaad waarvan sy groente in haar klein kweekhuis vertroetel voordat dit in die tuin geplant word.

Op oop kolle tussen die vrugtebome word ‘n groot verskeidenheid groente volgens seisoen deurmekaar aangeplant. Groente wissel van somergewasse soos tamaties, komkommers, eiervrug, spinasie, seldery en ‘n groot verskeidenheid pampoene, blaarslaai, soetrissie, brandrissie, verskillende soorte pampoen, aspersies en artisjokke, wortels, beet en radyse, groen en blou boontjies, asook roket, basiliekruid, preie en brokkoli.

In die winter word kool, boerkool , brokkili en blomkool, spinasie en seldery, ertjies en boerbone, sprietuie en preie, wortels, beet, rape en radyse, en ‘n groot verskeienheid slaai geplant.

En dan is ook al die soorte kruie wat ewe gelukkig tussen die groente groei. Die verskeidenheid is verstommend. “Ons pas permakultuur-beginsels toe wat voorsiening maak vir verskeidenheid, wat voordelig is omdat verskeidenheid lewenskragtigheid verseker. Omdat daar so ‘n groot verskeidenheid plante in ‘n bedding is, is ek nie bekommerd as een van hulle taan nie, want daar is genoeg ander wat oorleef. Omdat die grond en die plante gesond is, is die verbouing sowat 100 persent suksesvol.”

Hoenderwoema

Die grond word voortdurend verryk met kompos wat van die plantreste gemaak word, asook hul geheime wapen – sewe henne in ‘n spitsdak-hokkie van sowat 3 m deursnee waarbinne hulle heerlik skrop en wei aan die plantreste van groente wat klaar afgeoes is. Die hoenders speel klaar met snywurm en ander insekte wat die plant kan skaad. “Ek skuif die hok hoenders-en-al elke twee weke na ‘n nuwe bedding.” Die beddings word met drupbesproeiing natgelei sodat nie ‘n druppel water verlore gaan nie.

Die hoenders in hul hokkie speel ‘n sleutelrol in bemesting en onkruid- en insekbeheer.

Dit is nie nodig om gif te gebruik om onkruid of insekte te beheer nie. “Omdat die grond gesond is, is die plante gesond. Die magdom voëls wat hulle hier tuisgemaak het, beheer die insekte, en snags vang die vlermuise die muskiete. Die natuur het ‘n manier om self ‘n balans te handhaaf. Ek dink dit is hoog tyd dat die mens ophou om die omgewing en homself te vergiftig met insek- en onkruiddoder.”

Om die voëls van sekere plante, soos bessies, weg te hou, is ‘n kampie van ogiesdraad met ‘n skadunet daaroor opgerig. ‘n Driehoek van sowat 30 cm hoog met ‘n liggewig raam, oorgetrek met skadunet, word gebruik om jong slaaiplante te beskerm.

Markdag

“Die olywe word gepers by De Rustica Olyflandgoed, en van die Mission-olywe word ook ingemaak. Die vrugte wat in oorvloed is word gedroog. Dit sluit in vye, granate, perskes, appelkoose en druiwe word op draadrakke in die son gedroog en in bio-afbreekbare sakkies verpak.

Vrugte van die seisoen uit die aarde se tuin.

Op ‘n weeklikse basis word ‘n wonderlike verskeindenheid vars groente en vrugte aan sowat 10 vaste klante op De Rust gelewer,” vertel Kathryn. Die produkte wat oorbly nadat die staande bestellings afgelewer is, word die eerste Saterdag van die maand op ‘n oggendmark in De Rust verkoop.

Eet jouself gesond

“Ons het nie ‘n huisdokter nodig nie, want ons is gesond,” vertel sy.

Al is die heilige henne al vier jaar oud, en sekerlik oor hul beste lê-dae, is hulle beslis nie op die spyskaart nie, want benewens hul kosbare mis, sorg hulle vir vars eiers.

Byekorwe sorg vir heuning, een van die bestanddele van Kathryn se konfyt van suurpruime, chia-sade en heuning.

Middagete is kleurryk en vars uit die tuin: tamaties, basiliekruid, boerkool (kale), grasuie, knoffelspriete en bone, met ‘n goeie skeut slaaisous van hul eie olfyolie en knoffel, rooirissie en suurlemoen. Aandete bestaan ook uit  vars produkte uit die tuin!

Permakultuur (afgelei van Permanent + Kultuur) berus op drie etiese beginsels, maamlik omgee vir die aarde, omgee vir mense, en regverdige verdeling. Die stelsel is daarop gerig om niks te vermors nie – nie grond, water of energie nie – met ander woorde om volhoubaar die hulpbronne te benut tot voordeel van die aarde en ander mense.

Wat nog?

Die twee aardsmense bied permakultuur-kursusse aan, en besoekers kan oorbly in die aardse gastehuisie, wat net soos hul woonhuis van klei, ook organies uit die aarde gegroei het.

Watter beter wegbreekplekkie as op die afgesonderde stukkie aarde in die hartjie van die Klein Karoo.

Besoekers wat die natuurlike veld wil verken, kan dit te voet of met ‘n bergfiets doen; ander kan dalk verkies om in die hangmat onder die rietdak by die swembad te lê en uit die koelte die landskap te bewonder.

Kathryn is ‘n internasionaal-gekwalifiseerde joga-instrukteur en is passievol om haar kennis te deel. Sy bied jogaklasse in die ateljee op die plaas en twee maal ‘n week ook op die dorp aan, en bied op versoek ook privaatklasse aan. Sy is ook ‘n drukpunt- en intuitiewe terapeut en die diens word ook in die mooie ateljee aangebied. Boonop het sy ‘n mobiele terapiebed waarmee sy haar dienste by gastehuise op die dorp aanbied.

Kontak Numbi Valley Permakultuur-plaas by numbivalley@gmail.com vir meer inligting.

Share Button