Gamkaberg Natuurreservaat het onlangs ‘n nuwe kultuurroete wat erkenning gee aan die erfenis van die Attakwa en Kannaland Khoi bekendgestel.

Die Attakwa is een van vyf inheemse groeperings, wat die Griekwa, San, Nama, Koranna en die Kaapse Khoi insluit wie na hulself verwys as die “eerste mense”.

 Die Attakwa vorm deel van die Khoi-groep wat lank gelede hul tuiste in die Klein Karoo Vallei tussen Ladismith in die weste en Uniondale in die ooste gemaak het. Hul nalatenskap leef voort in plekname, soos Gamka, wat leeu beteken, en traka of tarka, wat vrou beteken.

Dit leef ook voort in die kultuurroete van 4 km in ‘n area waar sowat 40 rotskunsterreine met tekeninge en merke deur die Khoi en San in ‘n gebied wat waartoe die publiek nie voorheen toegang gehad het nie.  

Die rotskuns, wat mens- en dierefigure uitbeeld, asook handafdrukke,  kolle en ander merke in oker, wit en donkerrooi, is na raming tussen 2000 en 1500 jaar oud.

Die rotskuns neem ‘n mens op die spore van die San, jagter-versamelaars wat net genoeg plante en diere uit die veld geneem het om te oorleef, en die Khoi-herders wat deur die klowe van staning tot staning by ‘n watertjie met hul vee after weiding aangetrek het.

Op ‘n bewolkte Vrydagmore loop ek met die paadjie langs waar die eerste mense gewoon, gejag en liefgehad het, stories uit die sterre los gekyk het, en in diep beswyming wysheid van die voorvaders ontvang het.

Ek loop met die Mousebird-erfenisroete van 2.5 km langs. Die Pied Barbet-roete is 4.1 km, maar vandag wil ek net ‘n prentjie kry van hoe dit hier was toe die eerse mense hier tussen digte karooplantegroei en deur klipperige rivierbeddings geloop het.

Die roete begin by die interpretasiesentrum.

Die kultuurroete begin by die interpretasiesentrum waar kleurvolle borde die verhaal van die mense vertel. Die sirkel van die sentrum is simbool van die son, die halfmaan met die inligtingsborde die maan. Voor is ‘n vuurmaakplek, en teen die middelpilaar is ‘n verweerde wit elandskedel.

Gou kom ek ‘n bordjie teen wat die klipwerktuie van verskillende ontwikkelingsfases van die eerste mense toelig, nog ‘n entjie verder ‘n bordjie met ietsie oor die plante, want oral langs die paadjie is plante wat genommer is: 1 Botterboom, 2 Gwarrie, 3 Spekboom, 4 Vygie, tot by 20. Op die lys wat ek by die inligtingsentrum gekry het, word die Khoi en San se gebruike van die plante kortliks verduidelik.

Die paadjie kronkel tussen die Karooplantegroei en deur rivierbeddings tot by ‘n indababoom, ‘n pruimboom,  met verskuilde sitklippe waar ‘n mens met jou maat, jouself of jou skepper in diep gesprek kan raak. Die  bordjie vertel ook meer van die ander bome hier, soos die gwarrie, spekboom en soetdoring.

Afdrukke van rotstekeninge hier naby.

Een van die hoogtepunte is ‘n rots met afdrukke van vier mensfigure wat jag, en ‘n dier en mens met ‘n handafdruk bo-oor. ‘n Mens wonder stil oor die lewe wat twee eeue gelede hier sy gang gegaan het – die gebleikte skedel van ‘n bokkie met skerp horinkies onder ‘n oorhangklip, ‘n maalklip, volstruiseierdoppe, ‘n graafstok.

‘n Bordjie vertel van die eland, die leeu, die volstruis en die ystervark en die betekenis wat hulle vir die eerste mense gehad het.

Plek van stilte

En dan kom ‘n mens by ‘n plek van stilte, waar jy op ‘n bankie kan sit en oor die berg kan tuur. Al wat ek hoor is die geruis van die wind in die blare, ‘n bokmakierie wat ek aan sy geel keel en sy melodieuse lied eien, ‘n Suidelike waterfiskaal wat van boom tot boom vliet, en klein bruin voëltjies wat ek hoor, maar nie kan sien nie.

Doer regs is Tierkloof, waar deur nog ‘n roete lei wat jou uiteindelik by die Oukraal-kampeerplek 13,2 km verder aan en hoër op tot waar jy op die berg se rug kan oornag.

Mens moet fyn kyk om die fyne fossiele wat dateer uit die oertyd raak te sien.

Dan terug met die sirkelpaadjie, waar ‘n bordjie meer vertel van die fossiele van mossels wat oorgebly het uit  die see wat lank terug, nog voor die Khoi en San hier geloop het, die oervlakte bedek het. By die voet van die bordjie wys ‘n pyltjie die mooie mosseltjies wat met hul kartelrandjies in die sandsteen verewig is.

Nog ‘n bordjie met ‘n uitsig oor berg verduidelik die geologie van die terrein, want dit is belangrik om te weet van die klip en die grond wat van altyd af hier was.

Van die plante, soos hierdie sosatiebos, is genommer.

Voordat jy aanstap na die inligtingsentrum, kan jy eers met die twee maklike bossie-roetes langs loop: die Gwarrie is maar 0,7 km lank en die Spekboomroete 1,3 km.

Protokol in praktyk

Amper gelyktydig met die inwyding van die kultuurroete, is ‘n Biokulturele Gemeenskapsprotokol vir die Attakwa van Oudtshoorn en die Kannaland Inheemse Khoigemeenskap op Oudtshoorn bekendgestel.

“Die waarde van die inheemse kennis van die eerste volke van die Klein Karoo is uiteindelik erken met die daarstelling van die Protokol,” sê Poem Mooney, opperhoof van die Attakwa. “Die protokol beklemtoon die waarde van die optekening van inheemse kennis, die erkenning daarvan, en die beskerming daarvan teen uitbuiting.”

Bordjies soos hierdie vertel meer van die verskillende aspekte van Gamkaberg
.

“Die protokol beklemtoon die territoriale en kulturele gesag van ons as eerste mense oor toegang tot kultuur-erfenisterreine soos grotte en rotskuns, die bewaring en bestuur daarvan, en die gebruik daarvan vir kulturele rituele, asook die benutting van die veld en dierelewe vir kos en medisyne.”

“Die protokol gee geleentheid om die  bestaan van die Attakwa-groepering te gebruik as gidslyn om erkenning te kry vir ons bestaan en die bydrae wat ons kultuur, tradisies en inheemse kennis vir ons land inhou,” sê Mooney.  

En Tom stem heelhartig met hom saam: “Ons pas die terreine baie mooi op om te voorkom dat dit verweer of deur mense beskadig word,” sê Tom Barry, reservaatbestuurder.

“CapeNature het in oorleg met die Attakwa Oudtshoorn en Kannaland inheemse Khoi gemeenskap die roete beplan. Ons gee hiermee erkenning aan die kultuur en erfenis van hierdie gemeenskappe en ons wil baie graag vorentoe met hulle saamwerk om hierdie gebiede te beskerm en volhoubaar te benut.”

Vir meer besonderhede oor die Protokol, kontak Jeremy van Wyk by die Potskerf Inheemse Kennis- en Erfenis-navorsingsentrum  by 073 240 7898 of dao.potskerf@gmail.com

Vir meer besonderhede oor die Kultuurroete, kontak Tom Barry by Gamkaberg Natuurreservaat by 044 213 3367 of info@capenature.co.za

Share Button